Marius Schutte
Ek het JW Hurter se artikel gelees oor die Afrikaner wat in sy voetspore vaskyk en die problematiese muur wat binnekort sy baan tot ‘n stilstand gaan bring. Ek kyk bietjie anders na Afrikaners se progressie.
Ek dink die Afrikaner se probleem lê in die heropbou van ‘n nuwe identiteit. As ‘n wit Afrikaner seun, met ‘n stewige bou en ‘n reënboog baadjie, is daar bitter min wat ek nie weet van die stereotipes wat aan jong Afrikaanse boerseuns kleef nie. Mens kan selde help om nie vas te kyk in jou spore in die strewe na identiteit nie, sonder die spore is daar tog geen identiteit nie – net ‘n gesiglose spook trap nie spore nie.
Daar is reeds goeie kommentaar op hierdie strewe na ‘n nuwe fase in die Afrikaner mentaliteit in lirieke van Fokofpolisiekar – talle jong mense in Suid Afrika (spesifiek Afrikaners) klou aan die metafore en vergelykings in dié musiek. Een onderliggende metafoor wat vir my uitstaan is die vergelyking van die jong Afrikaner met ‘n toeris, indringer en buitestander in sy eie land.
Ek, persoonlik, voel soos ‘n indringer, ek en talle ander het dit aanvaar en kan niks anders doen as om aan te beweeg na ‘n kort maar insiggewende deurbraak nie. Dit was soos om my oë toe te maak en ‘n vuishou te verwag en om dit oop te maak en te besef ek word omhels, met onvoorwaardelike liefde en vryheid in my hart. ‘n Ongemaklike leemte, maar ‘n vryheid sonder beskrywing.
Die Afrikaner sal inderdaad nie kan aanbeweeg of progressie behaal sonder om te besef dat amper alles aangaande sy nasionaliteit, geskiedenis en identiteit met ‘n skandelike, donker vloek besmet is nie. Vir die langste tyd was hierdie identiteit verbonde aan rassisme, diskriminasie en onderdrukking van vroue en andersdenkendes.
Die Afrikaner sal gesien word as ‘n pes solank die klou na eendrag voortbestaan. Tot die dag wat daar besef word dat die eendrag aanloklik is bloot oor dit klein, patetiese tekortkominge wegsteek, naamlik: ons vrees van die onbekende en skaamte en skuldgevoelens oor ons geskiedenis, tot dan sal die muur in ons pad by staan.
Afrikaners moet hulself oopmaak vir die wêreld rondom hulle, neem alles in – want jy het net soveel tyd op die aarde. Leer oor Steve Biko, lees op oor hoe om te dans op Kwaito. Leer Tswana. Gaan eet Mopani wurms in die Oos-Kaap. Gaan speel Fifa en Mortal Kombat by ʼn nuwe multikulturele kroeg in die Pretoria Middestad.
Leer die name van die ministers in die kabinet en probeer die komplekse ritmes en poly-akkoorde van tradisionele Afrika musiek in die township milieu besyfer. Gaan flirt met Lebo, en fok wat jou vriende dink! Leef jouself uit in die nuwe Suid-Afrika!
As jy aanhou klou aan die ou maniere van goed doen, sal jy nooit onvoorwaardelik lief word vir die land nie. Ek is lief vir Pretoria, al is die boom verbonde met die stad, die Jakaranda, ‘n indringer spesie. Dit word nogtans aanvaar met ope arms en daar word saamgedrom om die boom se bloeisels in September te sien.
In hierdie nuwe asem word ek trots op my nuwe identiteit, en ek verdedig my plek in die nuwe Suid-Afrika teen enige teenstand.
Ek is verbind aan my taal, ‘n slawe-taal maar ook ‘n onderdrukker taal. Ek is verbind aan my geskiedenis, maar ek is in beheer van my toekoms. Ek wag met ope arms om die te aanvaar wat saam met my nuwe wortels in die grond wil vestig en dan saam te bloei vir almal om te sien.
Afrikaans het nog nooit regtig die “Afrika” in sy naam ter harte geneem nie. Die buitensporige pionier het nog nie sy volle potensiaal ontdek nie, maar begin stadig maar seker sy plek vestig sonder skuldgevoel of haat.
Lees JW Hurter se oorspronklike artikel: Die Afrikaner en pseudo-progressie, hier.
Marius Schutte is ‘n vryskut komponis en musiekvervaardiger van Pretoria, Suid Afrika. As hy nie besig is om musiek te maak vir videos of kunstenaars nie braai hy graag of neem die Pretoria lewe in.