MP Fourie
Huisgenoot, bl 12.
Jou Sterre Vir Maandag 5 Augustus
Capricorn: Mars is in sy tweede huis en daar is ‘n volmaan, so weesversigtigwat jy vandag sê. Hierdie week is een van groot potensiaal. Wees op die uitkyk vir nuwe mense, nuwe beleggings geleenthede, en bestuur versigtig.
Cue: Rol oë.
Astrologie – nog nooit daarvan gehou nie. Dit is net te onwetenskaplik, net te cheap. Half-gebakte advies, spesifek genoeg om ‘n leser spesiaal te laat voel, en vaag genoeg om altyd waar te wees. “Soek raad by vriende oor die uitdaging wat jou in die gesig staar.” “Vandag sal jy herinner word aan iemand uit jou verlede.” Akuraat? Dalk. Toekomsvoorpelling? Nie ‘n kans nie.
Tog, week na week, is daar sterreblaaie in tydskrifte, sterre-blogs op die internet, en ‘n hele boekrak in CNA volgepak met dun sagte-band riglyne vir elke sterre-bok en sterre-vis.
Hoekom? Hoekom hierdie nood om te weet wat die dag, die week, die jare vorentoe vir ons inhou? Want dit stop nie by astrologie nie – blaai om, scroll af, en jy sit met bladsye politieke analiste, ekonome, sosioloë, wat die land en volk se palm probeer lees. Wat vooruit wil weet of die markte gaan val, hoe die ANC se verkiesing-kanse lyk, of die milleniers oppad is om als op te donner.
Hierdie metodes is natuurlik baie meer betroubaar as die Huisgenoot se sterreblad (alhoewel die ekonome en analiste nie regtig oor enige iets kan saamstem nie, so wie weet, dalk speel Mars en die Maan ‘n groter rol as wat ons dink). Maar dit is nie die betroubaarheid van die data wat ek bevraagteken nie. Dit is die feit dat ons so graag wil weet wat die data sê. Nie hoeons voorspel nie, maar hoekom.
Eintlik word die vraag maklik beantwoord. Ons sukkel elke dag met ons toekomswense en hoop, en die vrese wat altyd saam met ‘n wens, ‘n hoop gepaard gaan. Onsekerheid, verandering, twyfel. Woorde wat in die moderne tyd saamkoek om ‘n pragtige identiteits-krisis te weef. Is dit dan verbasend dat ons soek na iets wat ons sekerheid kan bied – of dit nou advies is oor die aandele-mark of Aries?
Die Afrikaner spesifiek het sy eie toekomsvrese, wat dieper strek as politiek en ekonomie. Identiteit. Ons is bang vir wie ons was, en ons is bang vir wat ons word. ‘Afrikaner’ het ons sterreteken geword – tradisies, taal, en toekoms voorgeskryf in Huisgenoot one-liners (“Vandag is ‘n dag van interne spanning. Vermy gesprekke oor ras en koshuisname.”)
Ons het ‘n weersin aan twyfel, aan onseker wees. In elke aspek van ons lewe is ons eerste doel stabiliteit. Beroepe, verhoudings, finansies, geloof. Dit is oorbekend: “As ek maar net eendag gemaklik kan leef. Hoef nie uitspattig ryk te wees nie – ek wil net nie stres nie.” Ek het dit al self gesê.
En dit is waar ons die punt mis. Want die feit is dat ons nie verandering kan voorkom nie, nie onsekerheid enduit kan beveg nie. Dit is onskeibaar van menslike bestaan – veral in 2019. As ons twyfel ons vyand maak, verdoem ons onself tot ‘n stryd sonder einde. Twyfel gaan nie weg gaan nie. Gelukkignie. Dit is ons neiging om te bevraagteken wat ons kreatief maak en ons innovasie dryf. Die mense wat nie vir verandering vlug nie, maar dit aanvaar, dit kan vat soos dit kom, is die mense wat op die ou end ons pad vorentoe uittrap. As ons self die toekoms bepaal, wie kort sterretekens?
Dieselfde geld vir ons kultuur. Dalk moet ons ophou stry oor wie die Afrikaner is, en wie hy veronderstel is om te wees. ‘Afrikaner’ is slegs ‘n beskrywing – van ons. Die woord is nie een of ander mandaat wat aan ons deur God (of die sterre) gegee is nie. Dit is net ‘n woord wat ‘n groep aandui – ons moet dit ophou hanteer as iets wat ons persoonlikheid en toekoms bepaal. Die woord behoort aan ons, nie ons aan die woord nie.
Daar is net een bepaler van ons toekoms wat binne ons bereik lê – wat ons vandag kies om te doen. Dit is tyd dat ons ophou om profete te probeer wees. En wanneer ons nou en dan op bladsy 12 van ‘n Huigenoot afkom, hoef ons nie ons oë te rol as ons sien dat dit ‘n week is van groot potensiaal nie.
Want dit is.
MP Fourie is ‘n derde-jaar BCom Regte student aan die Universiteit van Pretoria. Hy skryf in ‘n poging om die gaping te vul wat deur sy afgesnyde man bun agtergelaat is.