Menu
Diskoers
  • Artikels
    • Die Afrikaner
    • Die Millennium
  • Skryf vir Diskoers
  • Nuusbrief
  • Kontak ons
  • Oor ons
Diskoers

Piep, pleit, punk en protes: Fokofpolisiekar praat saam

Posted on September 21, 2019September 21, 2019

Jemina Nickerbocker

Opstand is net so noodsaaklik in ʼn volk as getrouheid. Dis nie eens gevaarlik dat ʼn rebellie misluk nie; wat gevaarlik is, is dat ʼn hele geslag sonder protes sal verbygaan .

– N.P. van Wyk Louw, Lojale verset.

In A History of South Africa, word die tydperk tussen 2004 en 2013 in Suid-Afrika vergelyk met die gedrag van ʼn rebelse tiener. Ná vier en ʼn half dekades van (amptelike) apartheid is dit nie ongewoon dat ’n generasie wat grootword onder sisteme van die nuutgevonde reënboognasie vele probleme met identiteit en kulturele aanpassing ervaar nie (en soms, baie soos ʼn groeiende tiener, reageer op onvoorspelbare en aggressiewe maniere nie). Jan-Jan Joubert skryf in die hoofstuk, “The troubled teens: South African democracy”, dat “groei, groeipyne en onsekerheid” in hierdie tydperk aan die orde van die dag was. Vandag staan Suid-Afrikaners steeds voor hierdie uitdagende vraag – hoe dan nou vorentoe?

ʼn Vereiste van progressiewe ontwikkeling is dat bestaande wanpersepsies en leuens eers afgebreek word. Dit is naïef om te dink dat die ideologieë van vorige geslagte nie vandag ʼn beduidende rol in Afrikaners se siennings speel nie. “Daar is tydbomme in gapings van opvoeding gelos”. ‘n Ongesonde groot gedeelte van die Afrikanerpopulasie bly salig onbewus van die invloed wat faktore soos die NG-kerk se benadering tot die Afrikanervolk en konserwatiewe opvattings op hul perspektiewe het.

In dieselfde “tiener”-tydperk, het ʼn interessante ding in Afrikaans gebeur: vir die eerste keer sedert die Voëlvry-beweging het iemand uiteindelik die guts gehad om op ʼn alternatiewe manier kommentaar te lewer op ʼn samelewing; nie vanuit politiese of allerhande teoretiese oogpunte nie, maar in die vorm van harde, negatiewe musiek. Fokofpolisiekar, die eerste Afrikaanse punk-rockgroep, neem die posisie van die rebelse tiener in, deur weg te breek van die tradisionele, kulturele las van Afrikaner-wees en hulle identiteit self te herdefinieer.

Fokofpolisiekar gaan nie oor al die fucked-up kinders wat rook nie, maar eerder oor hoekom ʼn hele generasie kinders fucked-up is.

Kyk mooi. 

Ná hulle debuutalbum  As jy met vuur speel sal jy brand in 2003 bekend gestel is, is die groep gereeld in sosiale media, nuusberigte en onder akademici bespreek. Die grootste rede hiervoor is waarskynlik hulle uitsprake, kroeggevegte en riskante lirieke. Fred de Vries vergelyk die groep met The Rolling Stones en argumenteer dat Fokofpolisiekar se kontroversiële naam, optrede en lirieke selfs as meer waaghalsing en rebels as hierdie Amerikaanse groep gesien kan word. 

Nog ʼn platform waar die groep kontroversie veroorsaak het, is op die jaarlikse KKNK-besprekingsvergadering in 2006, waar die uitsprake en lastering van Fokofpolisiekar se lirieke veroordeel is.

Alle diskoers oor Fokofpolisiekar is egter nie negatief nie. In 2004 het Antjie Krog ʼn lesing aangebied waar sy Fokofpolisiekar se lirieke vergelyk met die poësie van N.P. van Wyk Louw. Bryan Little het ’n dokumentêr oor Fokofpolisiekar gemaak met die naam, Forgive them for they do not know what they do (2009). Sedertdien het Annie Klopper die geskiedenis van die groep nagevors en Biografie van ’n Bende gepubliseer waarin sy die ontstaan van die groep en agtergrond van die lede beskryf. Klopper en Little se uitbeeldings stem ooreen met die feit dat die musiek spruit uit kommentaar en vrae oor die groepslede se herkoms en konserwatiewe verlede, sowel as hedendaagse kwessies. Fokofpolisiekar word ook bespreek in artikels op LitNet en ander akademiese joernale.

In Azille Coetzee se boek, In my vel, skryf sy: “Dit is hier, in my hoërskooljare, waar Afrikaanse musiek ʼn nuwe asem en voorkoms gekry het. Fokofpolisiekar het begin in ʼn motorhuis in Welgemoed, waar ʼn paar seuns met ʼn ongekende varsheid, oorspronklikheid en rou disillusie uitgevaar het teen die lewe in die Afrikaanse voorstede van ons jeug. ʼn Opwindende Afrikaanse punk-rebellie teen die middelklas se wit kokon waarin ons nog so gemaklik geleef het (en steeds doen). 

“Fokofpolisiekar het ons gewys dat daar meer as een manier is om die Afrikaner-identiteit uit te leef”. Coetzee verduidelik, net soos Louw in 1939, dat die jeug ’n plig het om foute in ʼn bestaande samelewing uit te wys en op te tree daarteen. 

Vandag kan ons ook Fokof-bier in ʼn Fokof-bar drink en met ʼn verskeidenheid Fokofpolisiekar T-hemde huis toe loop. 

Na byna twee dekades op die Afrikaanse musiektoneel, het Fokofpolisiekar reeds drie vollengte albums, vier EP’s en twee enkelsnitte geskryf en opgeneem. 

In hulle lirieke word sterk boodskappe op kreatiewe maniere oorgedra. “Ek het familie wat nie bloed is nie”. “Ek’s net ʼn toeris in my geboorteland”. “My mense het nie tuisland nie”. “Ek skyn heilig”. “Kan iemand dalk ʼn god bel?” “Brand Suid-Afrika”. En “makliker om in te gee voor die tradisiemasjien my kom haal”.

Intertekstualiteit kom ter sprake in sommige lirieke waar N.P. van Wyk Louw, die Stem en die Bybel (onder andere Prediker 1:9 en Spreuke 26:11) aangehaal word. Temas, soos die soeke na identiteit, die invloed van ʼn konserwatiewe kultuur, idees oor godsdiens, nostalgie, dekolonialisme en immigrasie is deurlopend in al vyf albums.

Musiekvideo’s reflekteer ook tot ʼn mate die idees van Fokofpolisiekar: twee heteroseksuele mans, geklee in kakie kortbroeke, kan gesien word in “Brand Suid-Afrika”. In “Antibiotika” word ʼn swart boks voorgestel as ʼn simbool van onderdrukking en daggaplante kan gesien word in “Maak of braak”. 

Annie Klopper het Fokofpolisiekar beskryf as ʼn “spreekbuis vir die jeug wat op soek is na die ‘soeke na iets’”. Een manier om hierdie stelling te toets, is om te hoor wat sommige luisteraars te sê het. Op Youtube kan ʼn wye spektrum kommentaar gesien word onder verskeie video’s op die Fokofband-kanaal. Daar is heel konserwatiewe opmerkings, mense wat sommer net die tunes waardeer, nostalgiese Suid-Afrikaners in die buiteland, radicals, twyfellaars en ook ʼn hele klomp nonsens. You name it.

Onder die titelsnit, “Fokofpolisiekar”, het ek een gelees: As jy nog nie jou longe uit geskree het saam vriende op hierdie song in ‘n bar nie, dan het jy nog nie geleef nie.

Kommentaar op Youtube is slegs ʼn beperkte manier om die invloed van Fokofpolisiekar te toets. Vandag is die bende ook nie meer die enigste Afrikaners wat nader aan die waarheid kom deur middel van musiek nie. Een ding is duidelik: daar berus ʼn verantwoordelikheid op die jeug om bestaande sisteme te bevraagteken en, indien nodig, af te breek. Musiek is makliker identifiseerbaar en bereik meer mense as geskrewe protes. Soms is dit beter om die waarheid te sing en te skree as te sê of te skryf en daarom sien ek uit om te sien wat die Afrikaanse musiekbedryf verder in stryd teen vooropgestelde idees oplewer.

Jemina Nickerbocker se skoene is deur vroue slawe in die verre-ooste gemaak, en sy weet perspektief is nie ‘n speelding nie.

Hou op jou opwinding beteuel - en deel hierdie met jou vriende
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  

Laat 'n boodskap Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Soek

Meeste gelees

  • Afrikaners is Pannekoek-Plesierig
  • My skoene wíl ek dra
  • Wat is debat ?
  • “Kerk, ek is nie meer ‘n Christen nie”
  • P is vir passie (minus clichés)
  • Paljas of Afrikaner?
  • Piep, pleit, punk en protes: Fokofpolisiekar praat saam

Onlangs gepubliseer

  • Piep, pleit, punk en protes: Fokofpolisiekar praat saam
  • Paljas of Afrikaner?
  • Profete
  • Afrikaners is Pannekoek-Plesierig
  • Reaksie: Die Afrikaner en pseudo-progressie (met spesiale vermelding aan Pretoria)

DISKOERS OOR…

  • Die Afrikaner
  • Die Millennium
  • Ons gunstelinge

WIE IS DISKOERS?

Diskoers is ‘n aanlynplatform vir Afrikaanse studente, onder die ouderdom van 30, om te besin oor Afrikanerskap en hul ervaring in die millennium. Lekker.

Soek

Meeste gelees

  • Die Afrikaner en pseudo-progressie
  • P is vir passie (minus clichés)
  • Wat is debat ?
  • Resensie: An Act of Defiance (met ‘n caveat)
  • Die Groot Onttrek
  • Genade, sonder die kerk
  • Ek is ‘n Afrikaner?!
  • ‘n Storie oor stories
  • Hemel op die platteland
  • Afrikaner, Afri-slak

Volg ons

©2019 Diskoers | WordPress Theme by Superb WordPress Themes