Jacobus Cordier
Konteks: Maandag, 21 Januarie 2019, verklaar Prof. Tawana Kupe dat Engels die enigste formele taal van onderrig en kommunikasie by die Universiteit van Pretoria (UP) sal wees. Dit volg na die Universiteit se besluit om Afrikaans af te skaf na die #afrikaansmustfall beweging van 2016. Die besluit is deur Gauteng Provinsiale Afdeling van die Hoë Hof onderskraag nadat AfriForum gepoog het om die besluit om te keer. Afrikaans het in instansies van hoër onderrig geval.
So wat nou? Wat word van ons geliefde taal? Dit gaan voorwaarts natuurlik. Wat anders het jy verwag, Afrikaner? Hier volg die redenasie agter my positiewe vooruitsigte:
In 1930 word die Universiteit van Pretoria selfstandig verklaar na sy oorsprong uit die Transvaal Universiteitskollege (TUK) wat in 1908 gestig is. 1932 is die jaar van die Universiteit van Pretoria se Afrikaanswording. UP is opgebou tot wat dit vandag is hoofsaaklik deur Afrikaans en die bydraes van Afrikaners. Dit deel ek nie met jou om te sê dat Afrikaans daarom moet bly nie. Nee, Tuks se apartheidsgeskiedenis verseker dat Afrikaans nie weer sy voet in daardie deur sal kry nie. Ek is eerder van mening dat Afrikaners die vermoë het om ‘n uitstekende universiteit tot stand te bring.
“Solank as wat ons, Afrikaanssprekendes, nog asem haal en daai asem in Afrikaans uitblaas, sal ons die taal bevorder in ons verskeie velde.”
Kom ons neem in ag dat Afrikaans amptelike status geniet vir ‘n nederige 94 jaar (in 2019). Hoe is dit moontlik dat mens vir byna ‘n eeu die geleentheid gehad het om ‘n graad in die wêreld se jongste amptelike taal te verwerf? Meeste van die #afrikaansmustfall aktiviste sal verbaas wees om uit te vind dat Afrikaners nie net een oggend wakker geword het en Afrikaans as akademiese taal gevind het nie. Liefhebbers van die taal en Afrikaanse deskundiges van verskeie velde het met baie sweet en harde werk die taal ontwikkel tot ‘n tersiêre akademiese vlak. Chris Barnard het die eerste hartoorplanting in Afrikaans gedoen. Na hom het Andrè van der Merwe die eerste suksesvolle penisoorplanting gedoen, ook in Afrikaans. In 1951 word Suid-Afrika die 3de land in die wêreld, net na die VSA en Kanada om ‘n MBA program aan te bied, heel toevallig in Afrikaans. Solank as wat ons, Afrikaanssprekendes, nog asem haal en daai asem in Afrikaans uitblaas, sal ons die taal bevorder in ons verskeie velde.
Beweeg weg van die akademiese prestasie van die taal en kyk na die hart agter Afrikaans en die gemiddelde Afrikaner. Taalkundiges het vasgestel dat taal en kultuur onafskeidbaar is. Kultuur beïnvloed taal en taal beïnvloed kultuur. Hoe lyk hierdie taalkultuur vir Afrikaans? Hendrik Biebouw word in 1707 die eerste “Europeër” om homself as ‘n “Afrikaner” te beskryf. Dit was in opstanding teen die Nederlandse landdros wat hom met ‘n rottang beetgekry het na aanleiding van ‘n vuisgeveg waaraan Biebouw skuldig was. Die landdros was in Nederland gebore, Biebouw is in Suid-Afrika gebore. Biebouw het duidelik die boodskap oorgedra dat hy nie die Nederlandse landdros se gesag vanaf die kroon erken nie. Hendrik Biebouw: “Ik wil niet loopen, ’k ben een Africaander al slaat die landrost mijn dood, of al setten hij mij in den tronk. Ik sal, nog wil niet swijgen.”
Die Groot Trek, 1835-1846, merk die wording van die Afrikaner volk. In 1806 het die Britte, bekend vir hul imperialisme, finaal die Kaapse kolonie beset. Die uitbreiding van die Britse Kaapkolonie het die grensboere al verder oos in Xhosa gebied in gedruk. Weens dit en verskeie ander faktore van Britse verdrukking (gaan lees op oor jou geskiedenis) was die Afrikaners, ‘n mengelmoes van Nederlandse-, Duitse-, Franse- en Khoi-bloed, se enigste opsie om land in te vaar op soek na ‘n nuwe tuiste. Hierdie deel van ons geskiedenis is belangrik vir die punt wat ek probeer maak. Die Afrikaner-setlaars was onderdruk deur die Britse koloniseerders. Hulle was ongelukkig, Britse wetgewing het hul verarm en die Britse outoriteite het geweier om in te meng met die misdaad op die plase. Klink dit bekend?
Tydens die Tweede Boere-oorlog stel Lord Roberts die “verskroeideaardebeleid” in plek. Alles wat die Afrikaners opgebou het deur die generasies is vernietig. Ongeveer 30 000 plase is afgebrand. Die Britse Koning Edward VII het slegs £3 000 000 vir die nood onder Afrikaners geskenk om skadevereffening te dek. Om dit in konteks te stel – die oorlog het vir die Boererepublieke sowat £80 000 000 se skade veroorsaak. Baie van die boere wie se plase afgebrand is, het die paar Ponde wat vir elke boer beskikbaar gestel is, geweier. Hulle het die houding ingeneem dat hulle net self alles sou herbou. Hulle het nie hul oortreders se hulp gesoek of nodig gehad om verder te gaan en meer op te bou as wat hulle verloor het nie. Soos met die Groot Trek blyk dit weereens duidelik dat selfbepaling diep in die Afrikaner taalkultuurkompleks gewortel is.
En toe is dit tyd vir ‘n lekker groot dosis rasisme, ‘n blanke-meerderwaardigheidskompleks en ‘n groot afwyking van die heilige lig van ons Hemelse Vader. Apartheid was ‘n vieslike ding. Enige volk, Afrikaners ook, het maar iewers ‘n donker kol in sy storie. Die belangrike ding is hoe die volk hiervan herstel. Dis waar ons nou is.
Duidelik is Afrikaners, waarvan vandag meer as 60% nie-blank is, al deur ‘n ryke geskiedenis. Hierdie geskiedenis is gekenmerk deur pad-maak waar daar nie een is nie en om nie te vou onder verdrukking nie. Én as daar een ding is wat geskiedenis vir ons leer, is dit dat geskiedenis homself herhaal.
My voorspelling is dat Afrikaners bloot ander geleenthede sal skep om die taal te bevorder. Gaan kyk na Afrikaanse instansies soos Soltech en Akademia. Gaan kyk na privaatuniversiteite, wat ‘n groeiende konsep in Suid-Afrika is. Gaan kyk na al die Afrikaanse akademici wat vervreem word in hul huidige instansies. Met al die bogenoemde in gedagte dink ek ons kan met redelike sekerheid voorspel dat Afrikaners hul taal sal verdedig teen die aanvalle van dié wat dit sien as bloot “die taal van apartheid”.
Nie net het ons die verantwoordelikheid om die taal te verdedig nie, maar ook om dit op te bou. Tog het jy my nie nodig gehad om dit vir jou te sê nie. Jou taal het mos homself verweef in elke deel van jou menswees. Jou taal is die staal waarmee die Groot Argitek jou gedagtes gebou het. Jy kan nie van jou taal af wegkom nie, en jou taal is net so gebonde aan jou. Dit is in jou om te veg teen verdrukking. Dit is in jou om ‘n honderd maal meer op te bou as wat die oorlog verwoes het. Tel saam met my die stukke op en laat ons bou.
Jacobus Cordier is ‘n Christen, Afrikaner, Sonopper en dien op die Verteenwoordigende Studente Raad van die Universiteit van Pretoria 2018/19. Hy is ‘n 3de jaar LLB student. Jacobus dra ʼn nommer 9 skoen, maar partykeer nommer 10.