Johan Taljaard
Praat van ʼn perdebynes skop – om diskoers oor identiteit van watter aard ookal te voer moet altyd met ʼn mate van versigtigheid benader word.
Om jouself in 2019 openlik as ʼn Afrikaner te beskryf maak jy jouself ongelooflik oop vir kritiek. Waar gemoedere reeds hoog loop oor… ALLES, mag sodanige vereenselwiging dalk net die strooihalm wees wat die kameel se rug breek.
Ophelia merk in Hamlet op: ”We know what we are, but not what we may be.” Ek sal egter versigtig wees om standpunt in te neem dat die Afrikaner weet wie hy is, nog minder, wie hy kan wees.
Want, wie en wat is die Afrikaner nou eintlik? En nog meer, maak dit ooit saak? Is daar nie genoeg probleme reeds daarbuite nie?
“Kyk, chom. Tussen aardverwarming en om nog ‘n date vir Valentynsdag op te spoor weet ek nie of ek bereid is om by daai rabbit hole af te wandel nie.”
En fair enough. Ek verstaan. Want iets bestaan nie totdat jy dit op die naam noem nie en nadat daai bepaalde iets eers benoem is, dan kan jy dit nie langer ignoreer nie.
Dit is presies om daai rede waarom jy daai gesprek met daai meisie vermy. Meer as vriende, maar ook nie iets meer nie. So reg in die Twilight zone.
So, in kort, waarom bodder met identiteit?
Kort antwoord: Almal moet glo in iets.
As jy nie kop van gat kan onderskei nie, waarheen mik jy? En as jy nêrens het om heen te mik nie, dan is daar niks vir jou om te doen behalwe om die lyding van die lewe net passief te sit en verduur nie. Hel op Aarde is om net slag na slag te verduur sonder ʼn uitweg, want as jy darem na iets kan mik – as daar ’n objektiewe moontlikheid is dat jy jou situasie kan verbeter – dan dalk net mag alles tog op die ou end wel die moeite werd wees.
Great. So identiteit is belangrik. Waarom egter Diskoers™ oor Afrikaner identiteit voer?
Kort antwoord: Want duidelikheid oor identiteit beteken dat ek met selfvertroue alles kan verwerp wat Afrikanerskap nie is nie.
Ek het nou die dag vir die eerste keer die aanlyn Pottermore sortering gedoen (probeer dit self hier: https://my.pottermore.com/sorting) en ek was vir lank verbysterd gewees oor mense se skynbare lojaliteit teenoor ʼn fiktiewe Harry Potter Huis. Mense is skoon in die gesig gevat sou jy dit durf waag om vir iemand te noem dat Hufflepuff eintlik net ʼn Huis vir mense is wat daarvan hou om muffins te eet en wat nie die intelligensie, ambisie of waagmoed het om elders geplaas te word nie.
En toe wonder ek, maar waarom is dit die geval? Hoe word mens so lojaal en selfs so emosioneel geheg aan iets wat eintlik so belaglik is?
Kyk, ek is self nie seker nie, maar ek vermoed dit kom grootliks neer op lojaliteit teenoor ʼn bepaalde waardestelsel. Want dit beteken iets om te sê dat ek ʼn lid van Gryffindor is, want Gryffindors is dapper, ens.
Net so dink ek ook dat om Afrikaans te praat nie noodwendig van jou ʼn Afrikaner maak nie. En om brandewyn in die bos te drink en om van bakkies (Botha en Hilux) te hou ook nie van jou ʼn Afrikaner maak nie.
MAAR – iets soos om respek vir mense te hê wat ouer as jy is; die vermoë om hard te werk en om trots te wees op jou werk; om nie bang vir ʼn uitdaging en verandering te wees nie; om nie onnodig te piep nie; om nie rassisme te duld nie; om die geduld te hê om te luister en die moed om eerlik te antwoord; die nederigheid om jou foute te erken, en om te onderneem om volgende keer weer en harder te probeer…
DIT, saam met Boer Soek ʼn Vrou, ʼn stewige handdruk, redenaars en braai mag dalk net nader wees aan dit wat veronderstel is om ʼn Afrikaner te wees.
Nou toe nou. Oom Ned Stark het tereg opgemerk: ”Winter is coming.”
Winter is altyd op pad, maar winter is ook altyd hier.
Introspeksie, met die oog op oriëntasie. Om sterker, voorbereid en bevoeg te wees om die aanslae van die lewe aan te pak – dit is die prerogatief en dit is die pad vorentoe. Want die aanslae gaan beslis kom. O ja, hulle kom.
Johan Taljaard is die ou wat hierdie artikel geskryf het. Duh. Hy het regtig nie ‘n persoonlike vendetta teen Hufflepuffs nie. Belowe. Hy wil regtig hê dat jy vir Diskoers moet terugskryf. So maak so Nike en doen dit net.