Michelle Oelofse
Waarom dink Afrikaners dat die hemel te vinde is op die platteland? Is die fassinasie met klein dorpies bloot ʼn slaafse navolging van die Polisiekar-kultus (ʼn ander p-woord artikel in sy eie reg) of is platteland iets wat in Afrikaans-wees vervleg is?
Ekself kom van ʼn klein dorpie af en is heimlik trots wanneer ek vir my stedelike vriende moet verduidelik waar op dees aarde ‘Riebeeckstad’ is – sentraal Vrystaat, naby Welkom. Bietjie van die trots vind beslis sy oorsprong in die ongewone aard van my tuisdorp (om van Pretoria af te kom, is tog so alledaags), maar ek glo ook dat die platteland deel van my Afrikaner identiteit is.
Ek stel graag dat die gepaste beginpunt vir ʼn ondersoek na die Afrikaner-platteland identiteit ʼn ander p-woord is: plaas. Veronderstel vir die doeleindes van die gesprek dat die Afrikaner as volk se identiteit gevorm is rondom 1835, met die aanvang van die Groot Trek. Afrikaners ag op hierdie tydstip hul bepaalde identiteit so belangrik dat ʼn lewe onder die heerskappy van ʼn ander volk ondenkbaar is en hulle pak die tog uit die Kaap te (kaal)voet aan.
ʼn Groot vereenvoudiging van dié stuk geskiedenis is dat Afrikaners noord getrek onder Engelse heerskappy uit en plek-plek gesetel het as boeregemeenskappe. Gesinne het hulself gevestig op plase rondom ʼn sentrale dorpie bestaande uit ʼn kerk en mediese dokter. In wese is Afrikaans se wortels dus ʼn soeke na ʼn stukkie grond van jou eie (interessant as ons dink aan die huidige grond debat) en na gemeenskap rondom geloof.
Gemeenskap vir ons voorouers was nie gedeelde supermark of huise gerieflik naby aan vriende nie, maar eerder ʼn plattelandse, klein dorpie manier van leef. Dít was hemels.
In Riebeeckstad is die kerk se parkeerterrein ook die laerskool se netbalbaan en koffie na kerk waar jy verneem van mekaar se lief en leed. Ons videowinkel (ver regs op die foto as jy mooi kyk) is nog oop vir besigheid en ons wegneemete plekkies is nie een ʼn franchise nie.
Die innerlike gemoedsrus was oor my spoel wanneer ek Riebeeckstad se koppie (genaamd Koppie Alleen, want sien sentraal Vrystaat is maar ʼn plat plek) in die verte sien opduik is gedeeltelik omdat ek weet dat daar nou 300km tussen my en die universiteit is, gedeeltelik herinnering aan gelukkige kinderjare, gedeeltelik omdat ek kan ʼn video van die lang pad kan instagram story met ‘hemel op die platteland’ in die agtergrond en baie beslis ook omdat daar saligheid kom saam met die besef dat dit is waar ek hoort. Hierdie behoort-gevoel spuitende uit my Afrikaner voorouers se plattelandse wortels.
Stuur my hemel toe, ek dink dis in die platteland.
Michelle Oelofse is ʼn finale jaar regstudent aan die Universiteit van Pretoria. Sy is voorsitter van die UP Debatsvereniging, dien op die Diskoers redaksie en is mede-aanbieder van HUI-DIG, ʼn gedigte podcast.
Ek het dieselfde gevoel wanneer ek met my vriende praat. Ek kom van die suideoostelik USA en ons is baie trots van ons “vaderland”. Ek het hierdie artikel geniet. Cheers van Amerika!