Simon Oberholster
P is vir passie (minus clichés)… Of ek gaan minstens probeer, maar die internet is ‘n duister plek en vrot van Tumblr-quotes oor passie. Die HAT is ook nie handig om passie te defineer nie. Daarom sal ek dit dan self defineer.
Pas’sie (snw)
Nie die passie tussen een student en ander student nie (thanks, HAT). Maar Passie, die ding wat jou harder as die res van die mense in die kar laat sing al vra hulle jou om op te hou: Die man is so luidrugtig en het so veel passie vir die saak, hy is sommer lastig.
Nou goed, die een ding wat jy al seker die meeste oor passie gehoor het, is dat jy joune moet vind en dit moet studeer en ʼn loopbaan maak, blah, blah, blah.
As jy in jou passie kan werk is ons bly vir jou, Berta, maar ek en meeste ander mense doen nie.
Daar is bitter min mense wat die oggend uit die bed spring en kan sê “Yes, ek kan nie wag om te sit en swot nie.” Ek studeer BCom Rek en ek dink letterlik niemand kan met eerlikheid sê hulle is passievol oor rekeningkunde nie. MAAR ek moet toegee ek geniet my studies (soveel as wat mens nou regtig Rek kan geniet) en daar is niks anders wat ek eerder sou wou doen nie (behalwe dalk heeldag memes maak en kyk). Dit is net nie my lewenspassie nie en ek dink dis great! Dit skep ruimte dat ek die goed waaroor ek passievol is op my eie tyd en op my eie terme kan geniet wanneer ek by die huis kom.
Om jou passie te gaan “vind” is ‘n dwase soektog wat jou teleurgesteld gaan laat, maar gelukkig is meeste van die goed waarvoor jy passie het reeds teenwoordig. Passie is nie iets wat jy vind nie – dit is iets wat jy kweek. Obviously, is daar geen ware kenners op hierdie onderwerp nie, want dit verskil vir ons almal. Daarom skep ek ‘n gevallestudie van my eie lewe.
Gevallestudie: Die ontdekking van my passie vir letterkunde (en pretensie)
Ek het die voorreg gehad om vir 3 jaar Engels Huistaal te hê by ‘n juffrou wat met een kyk jou hart in steen kon verander, by ‘n skool wat daarop aangedring het om ‘n bepaalde lidwoord voor hulle naam te sit. Ten spyte van my aanvanklike vrees, het hierdie 3 jaar my lewe verander. Ek oordryf nie. My vriende lag nou nog wanneer ek na Graad 11 verwys as my Renaissance Jaar. As ek nou terugkyk, besef ek my liefde vir boeke het nie daar begin nie. Ek is van jongs af aan storieboeke blootgestel, het in die laerskool al vir meisies gedigte geskryf, en ek het selfs vroeë-hoërskool ‘n bietjie gelees. Maar, onder dié juffrou se wakende oog het ek drie jaar se Shakespeare en gedigte ingekry waaraan ek nooit andersins blootstelling sou gekry het nie. As ek moet eerlik wees, het lees eers ‘n passie geword na ek matriek voltooi het, want toe kon ek boeke en gedigte lees net omdat dit vir my lekker was (of lekkerder is as swot). Die punt is dus dat my onderliggende belangsteling in boekerige goed nog altyd daar was, maar omdat my passie daarvoor gekweek is, het dit ‘n klein vreugde geword wat groot genot in my lewe verskaf.
“Okay cool, maar hoe lyk dit in praktyk?” mag jy dalk vra. Ek sit en lees beslis nie Shakespeare in my vrye tyd nie, maar as ek by die huis kom, sal ek YouTube videos oor Shakespeare, geskiedenis of die “toeval” van die Kennedy-Lincoln sluipmoorde kyk. Ek moet wel bieg, ons kommune het nie ‘n televisie nie. Dit is regtig ‘n vreemde kombinasie, maar dis okay en dit is presies die punt. Ons lewe in ‘n tyd waar dit meer aanvaarbaar is om te hou van wat jy wil. Ek kan Saterdag op Loftus se oos pawiljoen Die Bloubul sing (ek sal nie, maar ek kan) en Sondag by Nouveau gaan fliek – what a time to be alive!
Selfs belangriker as om passie vir iets te hê, is om met passie en vurigheid te leef. In my gunsteling fliek, Dead Poet Society, sê Robin Williams se karakter: “Medicine, law, engineering, these are all noble pursuits, and necessary to sustain life. But poetry, romance, love, these are what we stay alive for.” Dit is wat passie vir my eintlik beteken. Nie net passie vir ‘n spesifieke aktiwiteit nie, maar om ‘n lewe van oorgawe te leef. Passie is soos sout in kos: dit is wat die lewe smaak gee en die moeite werd maak. Dit kom seker daarop neer dat mens ‘n voluit moet leef (dit was baie moeilik om dié cliché te vermy). Nie op die Instagram-los-my-werk-en-gaan-reis manier nie, maar eerder in die soeke na klein oomblikke in ‘n gewone dag waar jy met meer passie iets kan doen – net omdat jy kan.
As passie nou regtig so wonderlik is as wat ek dit probeer skets (dit is, regtig) dan is jy dit aan jouself verskuldig om die dae wat jy oor het op aarde nie te mors nie. Jack Londen, ʼn skrywer, beskryf dit beter as wat ek kan: “I’d rather sing one wild song and burst my heart with it, than live a thousand years watching my digestion and being afraid of the wet.”
Dit is beslis makliker gesê as gedaan, want daar is nie drie eenvoudige WikiHow stappe om jou passie te kweek en om met passie te leef nie. Hoe jy dit gaan doen, gaan ‘n unieke uitdrukking van jouself wees. En dit is wonderlik en vreesaanjaend op dieselfde tyd.
Soms kan die lewe regtig moeilik wees, maar ek is oortuig ‘n voller lewe lê opgesluit in passie (dit of ek het ons almal se tyd gemors). Passie is een van die eerste goed wat jy behoort na te streef (voordat jy oorgaan na sterker p-woorde).
Simon is ʼn BCom Rek student aan die Universiteit van Pretoria. Sy passies sluit in memes, letterkunde en conspiracy theories.