Josua Matthee
Onthou jy daardie dag in November? Nie die een wat versinnebeeld word met ʼn buskruitverraad en komplot nie, maar die dag wat gewys het hoe ons land kan wees. As ek my oë toemaak kan ek dit nou nog sien. ʼn See van groen en goud strek tot net oor die horison waar vreemdelinge gesamentlik ʼn pragtige oorwinning vier.
Nou sit ons in ʼn grendeltydperk sonder dit wat ons nasie broodnodig het.
Wêreldleiers het nog altyd die verantwoordelikheid gehad om hul burgers te beskerm en het, ooreenstemmend, deur geskiedenis besluite gemaak om daardie doel te verwesenlik. Die besluit om professionele sport in die midde van hierdie onbekende pandemie op sy te sit, het verreikende gevolge, meer as wat wêreldleiers oorspronklik besef het.
Professionele sport, as deel van die vermaaklikheidsbedryf, genereer inkomste nes ander besighede. Kaartjies word aan toeskouers verkoop, borge adverteer, gelisensieerde handelsware word aan aanhangers gesmous en televisienetwerke stoei vir uitsaairegte. Van hierdie vier inkomstebronne word net een deur die huidige pandemie onmoontlik gemaak. Waarom gooi ons dan die kind met die badwater uit?
Die antwoord wat eerste opduik: “om die verspreiding van die virus te bekamp”, is met eerste oogopslag reg, maar sodra mens hierdie (baie spesifieke) situasie so krities en objektief moontlik evalueer, lyk die prentjie anders. Dit word duidelik dat die gekontroleerde voortsetting van professionele sport en die bekamping van COVID-19 verspreiding nie onderling uitsluitend is nie.
Indien professionele sport agter toe deure voortgaan, is die moontlikheid steeds daar dat spelers en gepaardgaande personeel die virus onder mekaar kan versprei. Dis dieselfde probleem waarmee elkeen gekonfronteer word as hul kruidenierswinkel toe gaan, dit word opgelos met die gebruik van gehalte ontsmettingsmiddels.
Daar sal vir die voorsienbare toekoms ʼn voortdurende risiko van infeksie wees, maar in hierdie hoogs gekontroleerde geval kan mens die ekonomiese voordele maksimeer en die risiko drasties verminder.
Kom ons gebruik die voorbeeld van ʼn bekende toernooi wat gewoonlik tussen Maart en Mei plaasvind. Die IPL (Indiese Premierliga) is ʼn kriekettoernooi wat jaarliks in Indië gespeel word. Die IPL dra elke jaar meer as R2,9 miljard tot Indië se BBP by en in 2015 word die uitsaairegte van die IPL vir R46,3 miljard verkoop. In 2018 spog hulle met 1,4 miljard kykers wêreldwyd en net minder as 5 miljoen mense woon die toernooi in lewende lywe by. Die magiese som-pompie verklaar gevolglik dat 99,6% van alle aanhangers die wedstryde vanaf hul eie sitkamerstoele geniet.
Die kersie op die koek van ons internasionale professionele sportekonomie is dat die IPL nie die enigste of grootste toernooi is wat die vermoë het om hierdie skaal van fondse te genereer nie. Die NFL (R240,4 miljard), NBA (R91,2 miljard) en MLB (R180,5 miljard) is van die groter en meer winsgewende ligas in die sportwêreld.
Nes ʼn ouer voor ʼn kamerdeur, klop die boeke nie. Hierdie is honderde, miljarde rande, wat gebruik kon word om hierdie pandemie verder te beveg, wat tot niet gaan.
Professionele sport maak nie net ʼn daadwerklike verskil in die ekonomie nie, maar ook in die harte en lewens van die ondersteuners. Dag na dag word daar van die mensdom vereis om ʼn ongesiene vyand te trotseer, sonder bemoediging en sonder motivering. Hierdie pandemie verwoes nie net die ekonomie nie, maar ook die gemoed van burgers. Sport in Suid-Afrika het nog altyd die vermoë gehad om ʼn onmoontlike stryd, oorwinbaar te maak.
Eleanor Roosevelt het hierdie sentiment so pragtig verwoord: “Die wat geld verloor, verloor baie. Die wat vriendskap verloor, verloor baie meer. Die wat hoop verloor, verloor alles.”
Ek onthou toe Siya Kolisi en president Ramaphosa die Webb-Ellis beker lig. Dit het gevoel asof Shosholoza vir dae lank deur die strate van Pretoria weergalm het. Daar was hoop. Vandag is dit bloot ʼn vae herinnering.
Ons sportvelde en strate is leeg. Korona sal deur die mens verslaan word, maar die mens kort hoop. ʼn Sportwedstryd is maar net ʼn slagveld met menslike reëls, miskien as ons helde sien wen, is dit makliker om self die moontlikheid van oorwinning oor hierdie pandemie te sien.
Josua Matthee is tans ‘n tweedejaar regstudent aan die Universiteit van Pretoria. Josua is lief vir koffie en hy hiberneer graag.