Michelle Oelofse
Kyk, Jak de Priester het nie verniet oor Dinsdagaand movies gesing nie. Dinsdae is halfprys fliekdag by Ster-Kinekor – insluitend hul Nouveau fliekteaters – en daarom hoef jy slegs ʼn arm te betaal om te gaan fliek, teenoor die arm en been waarvan jy moet afstand doen op volprys fliekdae.
Dis dan juis wat ek verlede Dinsdag gedoen het, ek het besluit om ʼn fliek te gaan kyk in die Brooklyn Nouveau teater – hoeka op die vooraand van die 25ste herdenking van die eerste demokratiese verkiesing van Suid-Afrika, soos gevier op 27 April.
Ek doen niks sommer-so nie, so dié fliek sluit natuurlik toe ook aan by die bevryding/verkiesing-tema. An Act of Defiance handel oor Bram Fisher se lewe en weë, veral rondom die Rivonia-verhoor, waartydens oud-President Nelson Mandela tot sy beroemde tronkstraf op Robbeneiland gevonnis is. Daarby is my regstudent-wese ook baie opgewonde gewees oor die keuse (daar is darem iets aan regsgeleerdes se lewens wat goeie kykstof maak, né?).
Indien jy nie weet wie Bram Fisher is nie, ‘n kort bio: Fisher was ‘n advokaat, anti-apartheidsaktivis en kommunisleier. Hy het bekendheid verwerf as deel van Mandela en bondgenote se regspan in die Rivonia-verhoor, waartydens hy buitengewone toewyding getoon het. Hy is later ook, as kommunis, gevonnis tot tronkstraf.
Die fliek begin deur ʼn prentjie te skets van apartheid Suid-Afrika, van marteling en verdeling en van ondergrondse gekonkel in ʼn poging om die regering omver te werp. Dan die Rivonia inhegtenisnames en die hofsaak wat volg.
Deurentyd word jy bewus gemaak van die innerlike gestoei wat Bram Fisher ervaar, bepaald veroorsaak deur ‘n paar temas in sy lewe – temas wat, noodwendigerwys, teenpole vir mekaar is: Afrikanerskap – en respek vir alle rasse; die gesinsman – en bevrydingstryder; ʼn versigtig versorgde openbare beeld – en planne vir gewelddadige verset agter toe deure.
Fisher se aanslag tot die aanspreek van hierdie teenstrydighede kan egter opgesom word deur die, soos dikwels in die fliek genoem, frase “water is sterker as klip”. Hy tree ooreenstemmend altyd doelmatige en beredeneerd op: bekyk langtermyn doelwitte en tree daarvolgens op, eerder as om in die hitte van die oomblik ondeurdagte besluite te maak.
Hierdie verhaal is nie onbekend nie – moet dus nie enige plot twists of skokkende onthullings verwag nie (ons weet mos Nelson Mandela het nie doodstraf gekry nie). Dis dan juis die rol wat Bram Fisher gespeel het in die Rivonia-uitspraak, sy water-bo-klip aanslag, regsvernuf en deernis wat die Suid-Afrika van vandag gevorm het. Nelson Mandela sou heel moontlik nie sonder Bram Fisher gewees het nie, en dít dra die fliek met treffende beelde en dialoog oor.
Dan, die caveat: juis in ʼn verkiesingsjaar moet mens ligloop vir polities gelaaide flieks soos hierdie. Die krediete aan die einde van die fliek dui inderdaad die Departement van Handel en Nywerheid as borg aan. Inaggenome dat die regerende party ‘n drie-party alliansie is – waarvan een van die partye die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party is – waai daar ʼn paar rooivlaggies.
Kommunisme word eensydig as die weg uit die donker apartheid tonnel beskou, sonder noemenswaardige teenargumente wat op die skerm uitspeel – as’t ware is kommunisme (saam met Fisher en Mandela) die protagonis en apartheid (en die se polisie) die antagonis.
Ek is nie van mening dat ʼn kunsfliek soos hierdie se reikwydte nou van so ʼn aard is dat Suid-Afrikaners binnekort die kommuniste sekel sal opneem nie, maar dit is nodig om te vermeld van hierdie krapperigheid in ʼn anders briljante fliek.
Ek, soos ek seker die res van Suid-Afrika ook, is redelik moeg vir verkiesingspraatjies, die alewige ge-beloftes maak en moddergooi. Maar ek besef ook dat ek ‘n plig het om ‘n kruisie te gaan trek vir wat ons 6de demokratiese parlement samestelling moet bepaal – en dit lei noodwendig tot ‘n bepaalde verantwoordelikheid.
Dié verantwoordelikheid sluit in kennis van die huidige (verkiesingsmanifeste, leierskorpse en ‘n poging om te onderskei tussen propaganda en moontlik sinvolle uitinge), maar ook van die verlede – An Act of Defiance is ‘n uitstekende manier om seker te maak jy kom die laasgenoemde verantwoordelikheid (minstens gedeeltelik) na.
Moenie die Dinsdagaand-movies misloop nie (andersins sal jy maar die Jak de Priester gunsteling moet afstof en saam treur ‘ek mis die Dinsdagaand movies…’). Gaan kyk op die vooraand van die verkiesing dié boeiende Suid-Afrikaanse verhaal van Bram Fisher.
Michelle Oelofse is ʼn finale-jaar regstudent aan die Universiteit van Pretoria. Sy is voorsitter van die UP Debatsvereniging, dien op die redaksie van diskoers.com en is mede-aanbieder van huiDIG, ʼn gedigte podsending.