Lielie Viljoen
Wie is ons? Is onse net onsin of moet ons sin maak uit/met/in die Afrikaner? Is daar nog plek vir ’n Afrikaner-groepsidentiteit in ons ou “nuwe Suid-Afrika”?
In hierdie postkoloniale probleem van ’n samelewing weet min wie hulle is en waar hulle inpas. Die Afrikaanse jongmens dobber rond en soek tevergeefs na vrede en vastigheid in die grysgrou van globalisering. Om uit te vind of vastigheid waarna ons gryp die Afrikaner is, moet ons seker eers weet wie die Afrikaner is.
In die Anglo-Boereoorlog was daar ʼn bekende Skot wat voor sy Sherlock dae ’n verwensing en bewondering vir die mengselvolk genaamd “Afrikaners” gehad het. Hier volg ’n growwe vertaling van sy sentiment:
“Neem ’n klomp Hollanders – dié soort wat hulleself vir vyftig jaar teen Spanje verdedig het in ’n era waar Spanje die magtigste nasie ter wêreld was. Voeg ’n onwrikbare Franse subspesie by wat sy land vir sy geloof opgeoffer het met die herroeping van die edik van Nantes. Die eindproduk moet natuurlik een van die taaiste, dapperste, strydlustigste en onbedwingbaarste volke wees. Neem hierdie formidabele volk en lei haar op deur sewe generasies se voortdurende oorlog teen bloeddorstige volke en wilde diere, in omstandighede waar geen swakkeling toegelaat word om te oorleef nie. Plaas hom in die ideale posisie sodat hy meesterlike vuurwapen- en ruitersvaardigheid opdoen in ’n land wat ontvanklik is vir die taktieke van die jager, die ruiter en die skut. Kerf die finale, fyner afwerking op dié militêre bevoegdhede uit met ’n stoere, ou testamentiese gereformeerde geloof en ’n vurige nasionalisme. Dié mengsel vind vergestalting in die moderne Boer – die mees formidabele antagonis wat al ooit in die pad van die Britse ryk durf staan het. Ons militêre aartsvyand was nog altyd Frankryk, maar selfs Napoleon en al sy veterane het ons nog nooit so grof hanteer soos hierdie keiharde Boere nie; met hulle argaïese teologie en lastige moderne gewere.”
Geleende woorde uit ʼn baie bevooroordeelde mond. Daar was nog altyd iets aan hierdie aanhaling wat tot my spreek. Of dit te doen het met die feit dat dit my voorouers vlei, weet ek nie. Dalk het dit te make met die herinnering van dié aanhaling teen my oupa se kantoormuur. Afgesien van hierdie feit, lê daar ʼn diep waarheid in Sir Arthur Conan Doyle se beskrywing van die Afrikaner: ons identiteit is onlosmaakbaar van ons geskiedenis.
Dit is juis wanneer mens probeer om jouself los te skeur wat jy begin ontbind en uitrafel: Neem ’n volk wat hulleself moes ophef tussen verskroeide plase, konsentrasiekampe, depressies en wêreldoorloë waarin hulle geen aandeel gehad het nie. Laat hulle fanatiese nasionalisme hulle bewussyn en waardestelsel oorneem. Maak hulle een van die magtigste weermagte en laat hulle ekonomies floreer, ten koste van ander, net om alle politieke mag te verloor binne ’n oogwink. Laat die hele wêreld hulle veroordeel… en prut vir 25 jaar.
Hierdie geskiedenisresep lewer byna 7.2 miljoen apatiese verdwaaldes op.
So speel almal die postmodernistiese, individualistiese kaart en onttrek hulle uit ’n groepsidentiteit uit. Dit is tog soveel makliker om jouself te distansieer van hierdie geskiedenis en stigma. Dit is te veel moeite om te gaan kyk waar die foute gemaak is en waar daar moet verbeter word. Dit is só ongerieflik om jou voorsprong te erken. Dit is tog te vreesaanjaend om te deel in die skuld en verantwoordelikheid. Al wat gedeel word, is ’n vrees vir kritiek, ’n onwilligheid om menings te lug, ’n verwarring en ’n vervreemding.
Eerder as om weg te skram van die geskiedenis, eerder as om ’n ander, nie-spesifieke en neutrale etiket op hierdie mengsel te plak, moet ons begin kyk na die mengsel waarvan ons gemaak is. Ons moet ons identiteit(e) krities evalueer en besluite neem oor hoe ons die toekoms gaan betree.
Ons is die generasie wat verantwoordelikheid gaan neem vir ons eie groepsidentiteit.
Kom ons durf die woord “ons” te gebruik. Ons weet van beter as om weg te kruip agter ons individuele “identiteite” en apatiese ontwyking van enige omstredenheid. Ons kan ons geskiedenis, identiteit en optrede in ons eie hande neem; saam verskil as inklusiewe Afrikaners en kontroversiële kwessies aanspreek. So kan ons saam as ’n verligte, vasberade volk vooruitstreef en trots kan sterk staan tussen al die ander volke in die breër Suid-Afrikaanse gemeenskap.
Deur die inhoud van ons karakters en die vormingsfaktore van ons kultuur te identifiseer kan ons onsself beter verstaan en ander tegemoetkom omdat ons volhoubare vrede in onsself gevind het. Hierdie vrede sal aansteeklik wees in die Suid-Afrikaanse konteks omdat verskillende kultuurgroepe in vrede kan verskil. Deur gemaklik in jou eie vel te wees sonder om vyandigheid, gee ons elkeen ʼn plekkie onder die Afrika son. Maar dit is slegs haalbaar indien ons aanvaar dat groepe verskil en dat elkeen die reg het op ’n identiteit en vryheid.
Om trots te wees op jou kultuur is noodsaaklik ten einde ʼn trotse Suid-Afrikaner te wees. Om erkenning te gee aan waar jy vandaan kom, is noodsaaklik ten einde jou identiteit en aard te verstaan. As elke volk vrede binne hulle eie kultuurgroep en geskiedenis vind, sal ons verstaan waar ons verskille vandaan kom en vrede maak daarmee.
Neem ’n nasie van gryserige skakerings en maak elkeen weer trots op sy eie kleur. Maak die groen grasgroen en die blou soos onse hemel. Voor jy jou kan kry, het ons ’n reënboog geword.
Lielie Viljoen is ‘n derdejaar Veeartsenykunde student aan die Universiteit van Pretoria. Sy is ‘n jong, toekomsbewuste Suid-Afrikaner wat op verskeie vlakke betrokke is by gemeenskapsopheffingsprojekte en deelneem-aksies. Dit klop wildernis in haar binnekant.